Die storie van Quick Care Clinic begin lank voor die deure oopgemaak het.


Sr Lerè was vir jare ’n suster in die weermag — toegewy, gedissiplineerd en passievol oor haar werk. Tog het daar iets dieper in haar hart begin roer. Sy het keer op keer gevoel dat die Here haar roep om meer mense te help — nie net dié binne die weermag nie, maar gesinne, kinders, bejaardes en enigeen wat sorg nodig het.
Tydens ’n kursus het sy iemand ontmoet wat ’n vrystaande kliniek bestuur. Die idee het haar onmiddellik aangegryp. Dit het in haar kop en hart vasgesteek: ’n plek waar mense vinnig, bekostigbaar en met waardigheid hulp kan kry.Maande het verbygegaan. Een dag, terwyl sy en haar man deur die dorp ry, sien hulle ’n gebou wat te koop is. Dit het soos ’n teken gevoel — ’n bevestiging van die droom wat lank al in haar hart leef. Hulle het saam gebid en besluit: dit is tyd om Quick Care te begin.
Net nog ’n wonderlike bevestiging het gevolg.’n Dokter van Robertson het gehoor van haar plan — en sonder huiwering sy mediese toerusting aan haar geskenk. Hierdie geskenk het nie net prakties gehelp nie; dit het vir Sr Lerè gevoel soos ’n duidelike antwoord: jy is op die regte pad.
Vandag staan Quick Care Clinic as ’n bewys van geloof, deursettingsvermoë en ’n ware hart vir mense — ’n plek waar sorg met liefde en roeping saamkom.